![world beauty_eng_19.9_megan]()
Elke land het hul eie skoonheidsrituele. Dit is altyd interessant om te sien watter pamperlang-geheime vroue van oor die wêreld het om te deel.
Gelukkig vir ons het Hairtrade.com nogal heelwat speurwerk gedoen en teruggekom met ’n paar fassinerende tradisies wat ons nie kan wag om te probeer nie.
Dis tyd vir jou skoonheidsreis rondom die wêreld – van Indiese vroue wat speserye vir ’n meer gloeiende vel gebruik tot Sweedse vroue wat yskoue water op hul gesig spat om pofferigheid te verminder.
Duitsland
In Duitsland is dit nie ongewoon om water te trap in koue water nie. Dis bekend as ’n Kneipp-behandeling en daar word geglo dié tradisionele tegniek kan jou immuunstelsel versterk en jou beter laat slaap.
Brasilië
Brasiliane gebruik ’n ontbytstaatmaker – hawermout – om sonbrand te behandel. Dis nie net wonderlik om by gesigsmaskers te voeg nie, maar help ook om die vel te streel wanneer dit met water gemeng word.
Frankryk
In Frankryk gaan die truuks alles oor jou benadering tot skoonheid. ’n Gunstelingmanier om jou vel ten beste te laat vertoon is om jou tyd te gebruik wanneer jy gesigroom aanwend en dit inmasseer.
Spanje
Om ’n moeë vel te verhelder is ’n geliefkoosde Spaanse skoonheidstruuk om skyfies rou aartappel onder die oë te plaas. Dit verskaf ekstra bevogtiging met dieselfde verkoelende uitwerking as komkommer.
Swede
Die Swede hou dinge graag natuurlik en koel wanneer dit by skoonheid kom. Yskoue velsorg is hul benadering vir ’n vars gesig – van die eenvoudige truuk om yskoue mineraalwater op hul gesig te spat om pofferigheid te verminder tot om groentee-ysblokkies vir verfrisser te gebruik.
Griekeland
’n Geliefkoosde Griekse skoonheidsproduk is olyfolie. Dit word geëet om die vel ’n gesonde gloed te gee of aan haarpunte aangewend om dit te bevog en beskerm. Wanneer hulle strand toe gaan, wend hulle dit oral oor hul hare aan en bind dit dan vas om dit teen die sand en sout te beskerm.
Indië
’n Onverwagse Indiese skoonheidsbestanddeel is borrie. Hoewel ons dit gewoonlik vir kos gebruik, kan borriepasta aan die gesig aangewend word om die vel te verhelder.
Singapoer
Papaja is die magiese skoonheidsproduk in Singapoer. Dit kan aan die vel aangewend word om dit te verhelder en werk ook as ’n natuurlike afskilferaar omdat dit papaïen bevat.
Marokko
Marokke se nie-so-geheime geheim is arganolie, wat vir amper enige iets gebruik word. Ons weet al dis wonderlik vir ons hare, maar die Marokkane gebruik dit ook as ’n ryk bevogtiger en ontspannende badolie.
Japan
Om ’n vlekkelose vel van binne te verkry drink die Japanners matsja-groenteepoeier, wat die vel helder laat lyk.
Pole
In Pole is eierwit die verrassende skoonheidsgeheim. ’n Tuisgemaakte haarmasker van geklitste eierwit help om hare te versterk en te laat blink.
Kanada
Nadat hulle hul hare gewas het, draai sommige dapper Kanadese die koue water oop om dit af te spoel. Dit tem hare om rampe in die toekoms te keer en is ook wonderlik vir die vel omdat dit porieë laat saamtrek.
Thailand
Thailand het ook ’n kosgunsteling wat hulle as velsorgproduk inspan, naamlik klappermelk. Wanneer dit by sjampoe gevoeg word, versag hierdie natuurlike behandeling hare en laat dit blink.
Italië
Hoewel ons nie van vreugde wil dans by die gedagte om knoffel by ons skoonheidsroetine te voeg nie, glo die Italianers dis die moeite werd. Dié tradisionele velsorggeheim help verminder blykbaar puisies en kalmeer die vel.
China
In China is pêrelpoeier ’n noodsaaklike deel van sommige vroue se velsorgroetine. Dit word aan die gesig aangewend om die vel te verhelder.
Hierdie artikel het oorspronklik in Good Housekeeping in Brittanje verskyn.
The post Die beste skoonheidstruuks van oor die wêreld appeared first on Goeie Huishouding.